Sien die beste munisipaliteite hier

As jy in die dorp in Suid-Afrika met die beste munisipaliteit wil woon, trek Swellendam toe.

Volgens die Good Government Index, wat in samewerking met Good Governance Africa (GGA) opgestel is, is nege van ons toptien munisipaliteite in die Wes-Kaap geleë.

Nege van die toptien swakste munisipaliteite sal jy in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal vind.

Dié indeks is ’n ranglys van die hele land se 234 plaaslike en metropolitaanse munisipaliteite op grond van die gehalte van administrasie, ekonomiese ontwikkeling en dienslewering.

Die munisipaliteite se prestasie word gemeet aan onder meer toegang tot kraanwater, elektrisiteit en sanitasie, gereelde vullisverwydering, behuising, gesondheidsfasiliteite, polisiebeskerming en die getal inwoners wat hul skoolloopbaan voltooi het. Die munisipaliteit se geldsake en ­administrasie word ook in ag ­geneem.

Volgens die indeks geniet die Wes-Kaap se inwoners beter diens en ekonomiese geleenthede as enige ander provinsie in die land. Ná Swellendam is die Hessequa- en Bergrivier-munisipaliteit in die tweede en derde plekke.

Amper alle inwoners (sowat 98,8%) wat in die 20 beste munisipaliteite woon (15 daarvan is in die Wes-Kaap) het toegang tot kraanwater. Die meeste inwoners het elektrisiteit in hul huise (91,8%), vullisverwydering (79,8%) en ordentlike sanitasie.

In teenstelling daarmee het net 56,9% van die swakste 20 munisipaliteite se inwoners toegang tot kraanwater, 55% het elektrisiteit en slegs 5,5% van dié huishoudings se vullis word verwyder.

Volgens dr. Alain Tschudin, GGA se uitvoerende direkteur, het DA-munisipaliteite in die algemeen die beste presteer. Die DA bestuur 17 munisipaliteite, waarvan 15 in die Wes-Kaap is.

Munisipaliteite waar die ANC in beheer is, presteer goed ten ­opsigte van administrasie, maar onderpresteer as dit kom by dienslewering en finansiële ontwikkeling.

Daar is agt ANC-munisipaliteite in die voorste 20, waarvan vier (Kaap Agulhas, Beaufort-Wes, Prins Albert en Matzikama) in die Wes-Kaap geleë is.

Twee Noord-Kaapse munisipaliteite (Emthanjeni en Richtersveld) val ook onder dié voorste 20, saam met twee Vrystaatse munisipaliteite (Metsimaholo en Dihlabeng).Van die swakste 20 munisipaliteite is 12 in die Oos-Kaap en ses in KwaZulu-Natal.

Mpumalanga se munisipaliteite vaar beter met opvoeding en Limpopo en die Vrystaat s’n beter met behuising, sê Tschudin.

Maar waar Swellendam wen, wen hulle ver, berig Biénne Huisman. Altesame 98,5% van hul 36 000 inwoners het kraanwater, teenoor Mbizana in die Oos-Kaap wat onderaan die lysie lê met 15,1%.

Ook het 88% van die Swellendammers formele behuising, teenoor Mbizana se karige 1,1%.

“Ons roem ons veral op die skoonheid van ons dorp, veral omdat toeriste hier stop op hul weg na die Tuinroete.

“Die inwoners doen baie moeite om die dorp mooi te hou,” sê Khule Rodgers (19), ’n Swellendammer.

* GGA het die inligting saamgestel uit die 2011-sensus, data van Statistieke Suid-Afrika, ­Gaffney’s Local Government Yearbook (2013-2015), verslae van die ouditeur-generaal, die uitgebreide openbarewerkeprogram en die nasionale tesourie.